A C T I V E Networking that works...!

Welcome to friendsofgeorge - Networking at its best....!
Saturday, November 18 2017 @ 02:44 am SAST

Graad van blanke armoede skok



Daar is met skok kennis geneem van die graad en wydverspreidheid van armoede onder blankes in Suid-Afrika, in besonder onder Afrikaners, met die sirkulasie op sosiale media van 'n verslag deur Daniël Lötter van Front Nasionaal oor die toestande in die Munsieville blanke plakkerskamp te Krugersdorp. Uittreksels uit die verslag getiteld Waar ‘n volk sy skaamte weggegooi het, lees soos volg: “Nog nooit in my lewe het enigiets wat ek moes skryf, soveel van my geverg nie, dis wat in Munsieville by Krugersdorp aangetref word. Dit was op ‘n tyd ‘n ashoop – ‘n plek waar mense vuilgoed weggegooi het. Nou is dit mense wat daar weggegooi is. “Bejaarde mans met verrimpelde hande. Kinders met groot oë… net oë waarin daar niks uitdrukking meer is nie. Kinders wat na dinge kyk sonder om in te neem wat hulle sien, want dinge rondom hulle is maar net daar, dit het geen nut nie. “Uit die maalkolk van die menslike gang aan die Gautengse Wes-Rand het hulle hier uitgespoel. Die man in die sinkhok – wat op ‘n afstand lyk soos die tipiese hok wat op ‘n boereplaas staan vir die werfhond. Maar dis ‘n mens wat daarin skuiling maak. “Die man wat geopereer is vir ‘n breuk, maar die wond is nou oop. 13 cm lank, 5 cm wyd en stinkend van die verswering van septisemie. ‘Het jy vir my pleisters gebring?’ vra hy ‘Ek gee hom nog ‘n week,’ sê die ou man wat saamloop. ‘Dis die vyfde een vanjaar. Hulle wonde raak septies en hulle sterf.’ “Nie ver daarvandaan is ‘n skuiling waarin twee bejaardes woon.

Read more>>>>
Hulle het albei meer as 70 lewensjare agter die rug. In Zimbabwe was hy ‘n welvarende man, ‘n loodgieter. Maar hy is daar verdryf en hy kon nie sy voete hier weer vind nie. Die vrou lê. Sy het nie meer voetsole nie, die onderkant van haar voete is ‘n gistende wond. Maar die klinieksusters kom nie na hierdie plek toe nie. Sy moet gestut word om aan te sukkel tot waar ‘n taxi haar kan oplaai en by ‘n staatshospitaal gaan los. “En die klinieksusters is nie die enigste wat hier wegbly nie. ‘Die vrou daar oorkant se man is ‘n rukkie terug dood,’ sê die ouman wat saamloop. ‘Die predikante wou nie hierheen kom om te help nie. Ons het een van die swart pastore wat in die veld kerk hou gevra om hom te begrawe.’ “Tussen die klippe speel ‘n klompie kinders. Dis ‘n moedelose spel, sonder doelwit of rede. Hulle ken selfs die mees basiese vaardighede nie, want wanneer anders kinders leer om te tel deur ‘n ma wat sê: ‘Gaan haal vir my 3 eiers’ of ‘Hardloop gou kafee toe met hierdie R20 noot en koop ‘n brood. Kyk dat jy die regte kleingeld kry,’ leer hulle dit nie aan nie. Hier is selde drie eiers om te gaan haal en R20 is ‘n fortuin wat hulle nie ken nie. “Die kinders speel in Afrikaans, dis asof die woorde van hulle spel wegskram van hierdie verrotte aarde af. Dis nie ‘n taal wat jy op ‘n ashoop wil hoor nie. Daar is geen skaduwee nie, geen bome of struike nie, geen vrugbare grond vir groente nie, geen water om dit mee nat te maak nie. Dis net die glansende wit son bo hulle wat hierdie spel waarneem. En tog speel hulle… “Dit is die teenstrydigheid, die harde afbakening van realiteite wat ‘n mens die diepste tref wanneer jy hier loop. Die opslaankaia wat pynlik netjies en skoon is met die handgeskrewe kennisgewing langs die deur: ‘Hier klop jy voor jy inkom.’ Nie omdat daar iets in is om weg te steek nie – op hierdie ashoop van menslike verval kan niks weggesteek word nie. Maar omdat die enigste anker nog die laaste bietjie selfrespek en eiewaarde is. “Voor een van die skuilings staan ‘n lamlendige houtbankie met ‘n dogtertjie daarop. Die krulle van die ligbruin, toutjieshare kleef aan haar voorkop en laag in haar nek vas. Miskien is sy drie, dalk al ses. Sy is vuil met die vuilheid van baie dae en sy hoes terwyl sy klaend na haar ma roep. ‘Die ma is netnou hier weg saam met die Nigeriërs, sy sal terugkom met geld en kos vir die kleintjie na vanaand se kant toe,’ sê die ouman wat saamloop. “Wanneer sy vanaand terugkom sal sy oorstap na die saamgebondelde kaias en hop-huise waarin die swart inwoners van hierdie plek woon. Hulle het darem water en toilette. En daar sal sy ‘n kom water bedel om die stank van misbruik van haar liggaam af te was. Almal doen dit – want die lopende water en toilette wat hulle drie jaar gelede beloof is, het nog nooit gekom nie. “Sy sal haar liggaam daarmee was, maar die etterende sweer aan haar gees sal sy nie kan genees nie. Dit het al té stukkend geraak. En die dogtertjie sal volgende jaar 4 jaar oud wees, en dan 5 en dan 6 en niemand weet wanneer die eerste keer sal wees dat ‘n Nigeriër hom aan haar vergryp nie. Want daar is niemand wat dit sal kan keer nie. “‘n Mens ry nooit terug na ‘n ashoop om te gaan kyk wat het geword van die goed wat jy weggegooi het nie. En dit is dalk die verskriklikste aanklag van alles – niemand kom hierheen om te kyk wat het geword van sy broers en susters wat weggegooi is nie. “Ek ken my kollega, Lenel Cotty Wessels van Front Nasionaal, ‘n sakevrou, ‘n beplanner, ‘n doener, ‘n strateeg, maar toe sy my gisteraand bel kon ek hoor dat sy emosioneel hard getref is. Sy het gery na dié plek om te gaan kyk hoe lyk die realiteite van blanke armoede. En sy het ‘n kykie gehad in die ingangsportaal van hel op aarde….”
Graad van blanke armoede skok | 0 comments | Create New Account
The following comments are owned by whomever posted them. This site is not responsible for what they say.